Kollig

Koos Smit onder die Kollig

My naam is Koos Smit, ek is gebore in Odendaalsrus, in die hartjie van die Vrystaat en gedoop as Willem Jacobus Smit. Ek is tans 60 jaar oud, getroud met Marlene. Ek het 3 kinders, hulle name is Marizanne, Jacques en Wayne en 7 kleinkinders. Ek is woonagtig in Albertinia, waar ek my eie besigheid het. Ek doen instandhoudig en veranderinge aan huise in Albertinia en Mosselbaai omgewing. Ons beplan om na my vrou se aftrede in Mosselbaai te kom woon.
Ek het voorheen as personeel beampte op die goudmyne gewerk in verskeie dorpe soos Virginia, Welkom, Evander en Randfontein. My Laerskool loopbaan het ek begin en voltooi by Odensia Laerskool in Odendaalsrus. Op Laerskool was ek gekies vir die O/11A en O/13A rugby en krieket spanne onderskeidelik.
Met my Hoërskool loobaan was ek op Wessel Maree Hoërskool in Odendaalsrus. Van st.7 tot Matriek het ek vir die 1ste krieket span gespeel, waarvan ek van St.8 af tot Matriek vir die Vrystaat Platteland skole krieket gespeel het. In my Matriek jaar was ek gekies as bowler van die SA Platteland toernooi in Nelspruit, vir my laaste twee jaar was ek ook kaptein vir my skool se span. Ek het van st.8 tot Matriek in die 1ste rugbyspan as losskakel gespeel. In my matriekjaar was ek as Prefek gekies.
My weermag diensplig het ek deurgebring in Kroonstad Genieskool vir 2 jaar, waar opleiding ontvang het as instrukteur. Ook daar was ek gekies om vir die Vrystaatse weermag krieketspan te speel. My gunsteling kleur is blou, TV program is Sport en Nuus en ek lees ook graag koerant om op hoogte te bly van al die nuus gebeure. Ek is baie lief vir diere en het 2 hondjies wat soos kinders in ons huis is. My gunsteling stokperdjies is, buiten sport, braai en kos maak.
Hoogte punte in my lewe was om gekies te word as een van die beste 8 Action Cricket spelers in Suid-Afrika in die ouderdomsgroep van 40+ en toe weer 50+. My heel grootste hoogtepunt was egter dat ek op 59 jarige ouderdom my 1ste Two Oceans en Comrades suksesvol kon voltooi. Die slegste ding wat met my gebeur het, was toe ek van ‘n leer afgeval het en amper verlam was, daarna moes ek ‘n rug operasie ondergaan en kort daarna ook 3 skouer operasies. Wonderbaarlik het ek van alles herstel. Ek dink my kompeterendheid in sport irreteer ander mense baie, maar ek kan dit nie help nie, al doen ek ook wat. My gunsteling besittings is my tekkies, sport klere en medaljes.
My ikone is my ouers, waarvoor ek net die grootste respek gehad het. In die sport wêreld was Hansie Cronje, met al sy tekortkomings my grootste ikoon. Hardloop het my hele lewe verander, ek is nie meer ‘n diabeet nie, het nie meer hoë bloeddruk nie, is nie meer oor gewig nie en het ongeveer 20kg weg gegooi. Dit is vir my baie lekker om vir Hartenbos Drawwers te hardloop, dit voel of ek daar hoort. Al wat my nog beter sal laat voel is om my tye te verbeter in al die afstande.
Ek het begin oefen op die trendmill in die gim, omdat ek na my skouer operasies baie gewig opgetel het, ek het aanvanklik net gestap, maar toe ‘n klein dogtertjie eendag langs my hardloop het dit so lekker gelyk dat ek ook begin hardloop het. Drie maande later net na my 59ste verjaardag het ek die PetroSA 10 km gehardloop en voltooi in ‘n tyd van 57min. Sederdien het ek 19 maande later 81 wedlope voltooi. Ek het aanvanklik vir Langeberg gehardloop, maar op uitnodiging van Oom Jan du Toit, het ek die begin van die jaar by Hartenbos drawwers aangesluit.
My beste tye in die volgende afstande is:
10km: 43 min 12km: 54 min 15km 1:11
21,2km 1:40 30km: 2:39 42.2km 3:42
Two Oceans 5:26 Comrades 11:25
My gunsteling wedloop was my eerste Comrades. My gunsteling T-hemp is 2016 se Comrades hemp. My boodskap aan ander atlete is: “Jy is nooit te oud om te begin hardloop nie, en onthou julle is net so oud soos wat julle wil wees”.

Leave a Reply